’n Jeug van skaduwees en soeke na lig
Ek het grootgeword in ’n Afrikaanse Christelike huis waar kerk bywoning meer oor tradisie as oor verhouding was. Agter glimlagte en mooi woorde was daar pyn: verslawing, emosionele en selfs fisiese geweld. As kind moes ek die volwassene wees.
Maar selfs in daardie duisternis het ek ervaar dat God se Woord krag het – ’n lig wat deur die donker gebreek het.
“Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.” – Johannes 1:5 (AFR83)
Ontvlugting in die kerk
As tiener het ek my toevlug in die kerk gevind. Ek was ses dae ’n week daar – in Bybelstudies, jeugbediening, kursusse, uitreike. Ek het God se Woord intensief begin leer ken en ervaar. Ek het myself verdiep in die Bybel en ervaar hoe God se Woord krag het om wonde te genees. Die Woord het my lewendig gehou wanneer alles om my donker was. Dit was ironies – in die donkerste tyd van my huislewe was ek op my vurigste vir Christus. Ek was ’n vuurwarm Christen.
“Nader tot God en Hy sal tot julle nader.” – Jakobus 4:8 (AFR83)
God se Woord was my asem. Elke vers het my herinner: Ek is nie alleen nie.
Die louwarm jare
Maar soos die lewe aangaan, het ek lou geword. Werk. Trou. Huis bou. Kinders grootmaak. Finansiële druk. Al die “grootmensdinge” het my geloofsgees verstik. Ek het al minder Bybel gelees. Moeg. Te moeg om te bid, te moeg om kerk toe te gaan. Verskonings het maklik gekom: die kinders is woelig, ek hoor in elk geval nie die preek nie. Ek het begin leef in ’n staat van “genoeg om deur te kom,” maar nie genoeg om voluit vir God te leef nie.
“Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.” – Openbaring 3:15-16 (AFR83)
Hierdie woorde sou later soos ’n spieël vir my word.
Die skuif oorsee
My man het lank die droom gekoester om oorsee te trek. Ek het vasgeklou aan die bekende – eerder die duiwel wat ek ken, as die onbekende. Maar toe die deure na Australië oopgaan, het God begin werk.
Die trek was emosioneel uitputtend. Ons moes alles agterlaat – besittings, herinneringe, sekuriteit. En tog, tussen die krate en gesukkel, het ek iets kosbaars ontdek: my Bybel, geskenk van my Oupa en Ouma. Die Bybel wat my as tiener deur die donker dae gedra het. Dit was vol gemerkte verse, trane, en hoop. Toe ek dit oopmaak, het ek weer daardie vrede gevoel. Daardie bo-natuurlike liefde en aanvaarding. My siel het gesmag na dit – om weer volkome op God te vertrou.
“U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad’’ – Psalm 119:105 (AFR38)
’n Nuwe begin
In Australië het ek aanvanklik beplan om huisma te wees, my kinders deur die aanpassing te help. Maar God het anders beplan. Deur ’n reeks “toevallighede” – eintlik Sy voorsienigheid – het ek ’n pos gekry by ’n Christelike skool. ’n Werksomgewing waar ons elke oggend die dag begin met Bybel studie en gebed.
Skielik het ek weer Bybel begin lees. As gesin het ons weer begin saam kerk toe gaan, iets wat lank uit my lewe verdwyn het. Ons het elke aand begin Bybel lees saam met die kinders. Ons het weer tyd gemaak vir God.
“deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. – Klaagliedere 3:22-23 (AFR38)
Daardie hunkering wat lank gesluimer het – om weer betrokke te wees in bediening, om weer vuurwarm vir die Here te leef – het wakker geword.
Die geboorte van LigStraal
So het die idee gekom: om God se Woord te deel. Nie my opinies nie. Nie die lawaai van soveel verskillende kerke en predikers nie. Maar eenvoudig: die Woord self.
Lees jou Bybel, bid elke dag – en jy sal groei.
Ek het gevoel: mense het nie nog opinies nodig nie – hulle het die suiwer waarheid van God se Woord nodig. Back to basics. Die Bybel as anker.
Ja, ek het verskonings gemaak: ek kan nie design nie, ek is nie ’n skrywer nie, ek het nie teologie studeer nie. Maar God herinner my: Hy roep nie die gekwalifiseerdes nie – Hy kwalifiseer dié wat Hy roep.
“Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.” – 2 Korintiërs 12:9 (AFR38)
“want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.’’– 2 Korintiërs 5:7 (AFR38)
LigStraal is gebore uit daardie plek: ’n eenvoudige begeerte om die lig van God se Woord te laat skyn. ’n Digitale straal van hoop in ’n wêreld vol duisternis.
Die doel en roeping van LigStraal
LigStraal se hart is eenvoudig:
- Om mense terug te lei na die Woord van God.
- Om hoop te bring vir die moeges en gebrokenes.
- Om te wys dat God se Woord krag het om nuwe lewe te bring.
“Julle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie.” – Matteus 5:14 (AFR83)
’n Oproep tot geloof
As jy hierdie lees en jy voel soos ek gevoel het – moeg, louwarm, oorlaai, bang vir die onbekende – wil ek jou herinner: God se genade is genoeg. Hy maak alles nuut. Sy lig skyn steeds.
“Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” – 2 Korintiërs 5:17 (AFR38)
Dit is nooit te laat om terug te keer na Hom nie. Om jou Bybel weer oop te maak. Om jou gebede weer eenvoudig en eerlik te maak. Om jou geloof weer te hernu.
LigStraal is nie my projek nie – dit is God sin. Dit is my “ja” op Sy roepstem. En my gebed is dat dit ook jou aanmoediging sal wees om weer “ja” te sê.
“Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!” – Jesaja 6:8 (AFR38)
Slot: God se Woord het krag
Ek het LigStraal begin omdat ek glo dat God se Woord krag het om te genees, te herstel en hoop te bring.
Ek is net ’n sondaar wat gered is deur genade. Maar ek glo God kan selfs die kleinste straal van lig gebruik om groot lig te bring.
En my uitnodiging aan jou is eenvoudig: Kom saam. Lees die Woord. Bid elke dag. En laat God jou ‘n lig maak vir ander.
“Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”– Matteus 5:16 (AFR38)
LigStraal bestaan om te wys: God se Woord krag het — selfs in die donkerste tye.
