Johannes 1 Bybelstudie neem ons na een van die diepste en mees kragtige gedeeltes in die hele Bybel — Johannes 1:1–18. Hierdie is nie net ’n inleiding tot die evangelie nie, maar ’n fondament wat alles dra wat volg. Hier ontmoet ons Jesus nie net as ’n leraar of wonderwerker nie, maar as die ewige Woord, die Skepper, die Bron van lewe en die Lig van die wêreld wat mens geword het. Alles wat Johannes later gaan wys — lig, lewe, genade, waarheid en wedergeboorte — begin reeds hier. As jy hierdie gedeelte reg verstaan, verander dit hoe jy die hele evangelie lees… en hoe jy Jesus self sien.
Johannes se Proloog (Johannes 1:1–18)
Die Woord het mens geword
Hierdie eerste 18 verse is nie net ’n “inleiding” nie.
Dis soos ’n opsomming van die hele boek.
Alles wat Johannes later gaan uitpak —
◉ die Woord
◉ lewe
◉ lig
◉ genade
◉ waarheid
◉ wedergeboorte
◉ die Vader wat Homself wys deur die Seun
— begin reeds hier.
En as jy hierdie deel verstaan… lees jy die res van Johannes met nuwe oë.
1. Die Ewige Woord — Johannes 1:1–2
“In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God.’’
Johannes begin waar Genesis begin:
“In die begin…”
Maar hy gaan selfs verder terug.
Johannes sê basies:
◉ Toe die begin begin het… was die Woord reeds daar.
Die Woord het nie ’n begin nie.
Hy was reeds daar vóór tyd.
Vóór skepping.
Vóór enigiets.
Wat beteken ”Woord” (Logos)?
“Woord” kom van die Griekse woord Logos.
Hier is waar dit ongelooflik raak:
◉ Vir die Jode:
Hulle het dikwels na God verwys as “die Woord van God” —
asof Sy Woord amper ’n manier was om van Homself te praat.
◉ Vir die Grieke:
Hulle het geglo die Logos is die krag wat orde bring in die heelal.
Die Logos was vir baie Griekse filosowe die rede of orde wat die heelal bymekaar hou.
En Johannes sê:
◉ Julle praat al eeue lank van die Logos.
◉ Nou gaan ek vir julle sê wie Hy is.
Hy het ’n Naam.
Jesus.
“en die Woord was by God, en die Woord was self God…’’
Hier lê een van die diepste waarhede van ons geloof.
Johannes wys vier dinge:
- Die Woord bestaan.
- Hy was in die begin.
- Hy was by God.
- Hy was God.
Dit beteken:
◉ Die Vader is God.
◉ Die Seun (die Woord) is God.
◉ Hulle is onderskeibare Persone.
◉ Maar een in wese.
Hier sien ons die fondament van die Drie-eenheid.
❔Het jy geweet?
Sommige vertalings (soos die New World Translation van die Jehovah’s Witnesses) vertaal dit:
“Die Woord was ’n god.”
Maar:
✔ Geen erkende Griekse geleerde ondersteun daardie vertaling nie.
✔ Die Griekse grammatika laat dit nie toe nie.
✔ Dit verander die hele boodskap van Johannes.
Die Woord was God.
2. Die Skepper – Alles is deur Hom gemaak — Johannes 1:3
“Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.’’
Met ander woorde:
As iets geskape is —
is dit deur Jesus geskape.
Dit beteken:
◉ Hy is nie geskape nie.
◉ Hy is die Skepper.
Soos Paulus later sê in Kolossense 1:16.
3. Lig en Lewe — Johannes 1:4–5
‘‘In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.’’
Hier gebruik Johannes ’n spesiale woord vir lewe: zoe.
Nie net biologiese lewe nie.
Nie net asemhaling nie.
Maar die lewensbeginsel self.
Jesus het nie net lewe nie.
Hy is Lewe.
En daardie lewe is Lig.
En die duisternis?
“Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.’’
Die Griekse woord katalambanō (uitdoof) wat Johannes gebruik het kan twee dinge beteken:
- oorweldig
- verstaan
Daar is ‘n duidelike dubbele betekenis.
Die woord kan ook beteken dat die duisternis die lig nie kon begryp nie.
Duisternis kan nie lig oorwin nie.
Dit kan dit nie uitdoof nie.
Dit kan dit nie absorbeer nie.
Lig wen altyd.
Net soos in Genesis 1 —
waar God lig spreek oor chaos.
Johannes sê:
’n Nuwe skepping het begin.
4. Die Getuie — Johannes 1:6–8
‘‘Daar was ‘n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes. Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom. Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig’’
Hier kom Johannes die Doper in.
Hy was nie die Lig nie.
Hy was die getuie.
Sy doel was een ding:
◉ Dat mense sou glo.
En hier’s iets belangrik:
Getuienis maak jou nie neutraal nie.
As jy getuig — kies jy kant.
5. Aanvaarding of Verwerping — Johannes 1:9–13
‘‘Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore.’’
Hier breek die verhaal amper.
Die Skepper kom na Sy skepping.
Die Koning kom huis toe.
En baie sê:
“Ons wil Hom nie hê nie.”
Dit wys hoe diep sonde die mens raak.
Maar… aan almal wat Hom ontvang het…
Hier draai alles.
“Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.’’
Let op:
Nie almal nie.
Nie outomaties nie.
Maar dié wat:
✔ Hom ontvang
✔ In Sy Naam glo
Hulle word wedergebore.
Nie deur bloedlyn.
Nie deur menslike wil.
Nie deur godsdiens nie.
Maar deur God.
Dis nuwe geboorte van binne af.
6. Die Woord word mens Johannes — 1:14–18
‘‘Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. Johannes getuig van Hom en roep uit: “Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: Hy wat ná my kom, is my vóór, want Hy was voor my reeds daar.” Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.’’
Hier is die skokkendste sin in die hele stuk.
Die Logos.
Die Ewige.
Die Skepper.
Het vlees geword.
Hy het nie net mens gelyk nie.
Hy het mens geword.
Vir die Grieke was dit ondenkbaar.
Vir die Jode was dit amper onmoontlik.
Maar Johannes sê dit sonder verskoning.
God het naby gekom.
“en onder ons kom woon. ”
Die oorspronklike woord beteken letterlik:
◉ Hy het sy tent opgeslaan.
Soos die tabernakel in die woestyn.
God wat tussen Sy volk woon.
Jesus is:
- Die middelpunt van die kamp
- Die plek van openbaring
- Die plek van offer
- Die plek waar God woon
Soos God se heerlikheid die tabernakel gevul het (Eksodus 40), wys Johannes dat God se heerlikheid nou in Jesus sigbaar is.
Jesus is dus God se teenwoordigheid onder mense — net soos die tabernakel dit in die Ou Testament was.
Hy is die ware Tabernakel.
“Ons het sy heerlikheid gesien”
Johannes praat as ooggetuie.
Nie ’n droom nie.
Nie ’n visioen nie.
Hy het dit gesien.
En daardie heerlikheid was nie vuurwerke nie.
Dit was:
◉ Vol genade
◉ Vol waarheid
Nie net waarheid sonder genade.
Nie net genade sonder waarheid.
Albei. Volkome.
Genade op genade
“Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.’’
Dit beteken:
Genade wat nooit ophou nie.
Dit beskryf genade wat bly kom — een golf wat die volgende vervang. Een golf na die ander.
Onuitputlik.
Die wet het deur Moses gekom.
Maar genade en waarheid het deur Jesus gekom.
Hy bring nie net reëls nie.
Hy bring verhouding.
Niemand het ooit God gesien nie…
‘‘Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.’’
Maar:
Die eniggebore Seun het Hom verklaar.
As jy wil weet hoe God is —
kyk na Jesus.
Jy hoef nie te wonder nie.
Jy hoef nie te spekuleer nie.
Jy hoef nie rond te soek nie.
God het Homself gewys.
7. Struktuur van die proloog
Die proloog beweeg soos ’n boog:
| Begin | Middel | Einde |
| Die Woord by God | Die Woord in die wêreld | Die Seun wys die Vader |
1️⃣ Jesus by God (1–2)
2️⃣ Jesus as Skepper (3–5)
3️⃣ Johannes die Doper se getuienis (6–8)
4️⃣ Jesus kom na die wêreld (9–13)
5️⃣ Die Woord word mens (14–18)
Johannes begin by die ewigheid, beweeg na skepping, dan na die wêreld, en eindig by Jesus wat God aan ons openbaar.
8. LigStraal-gedagte
Alles wat Jesus later doen — die tekens, die gesprekke, die wonderwerke — vloei uit hierdie waarheid: Hy is die Woord wat vlees geword het.
Hierdie is nie net ’n poëtiese opening nie.
Dis die fondasie van alles wat volg.
As jy Johannes 1:1–18 verstaan,
lees jy die hele evangelie anders.
